Search

'n Winter Nuusbrief


Wat gebeur hierdie winter?

Dit is eindelik koud in die Kaap, maar nog nie nat genoeg nie. Tot einde Julie is daar nie enige groot reëns voorspel nie en ons het tot op datum 200mm minder vanjaar gehad as oor ‘n 20 jaar gemiddeld.

Kelderaktiwiteite in die winter sluit in om wyn van die gismoer af te spoel en dan wit, rosé en ligte rooies te bottel. Vanjaar, op advies van Hendrik en Renée en heelparty vriende in die wynbedryf, suiwer ek die inhoud van hierdie vate met bentoniet en filtreer dit dan blink voor bottelering.


Sover is Chardonnay en Sémillon is reeds gebottel en is helderder en meer gefokus as nog ooit. Op die foto regs is ’n mengbak met opgeloste bentoniet.


Hoe lyk 2022 as oesjaar?

2022 is vir my verrassend ligter as 2021. Witwyne is eleganter en het baie mooi natuurlike suur en lieflike definisie van vrug. Rooiwyne het in my ongekunstelde waenhuis nie dieselfde diepte van kleur en ekstrak as verlede jaar behaal nie. Ek het dit reeds in die middel van pars besef, en daarom meer Shiraz by Wonderbare Raadsman versny en vir die eerste keer Petit Verdot by Cabernet-versnitte gevoeg. Veral SwartPerd is meer kompleks as resultaat hiérvan, ook omdat wyn wat andersins vir Hendrik van Niekerk bedoel was, daarmee vermeng is.


Wonderbare Raadsman (links) is nou op aandrang van Renée ‘n Rhôneversnit: 60% Cinsaut, 30% Grenache en 10% Shiraz. Dit behoort einde Augustus beskikbaar te wees.


Wil jy my nooi vir ‘n kos- en wynfunksie?

Ek is baie gelukkig dat ek genooi word na verskeie plekke in die land. Ek het al in die Suid- en Ooskaap, in die Vrystaat en Gauteng en Mpumalanga wynproe-aande gehou wat lewensvierend was.

Die foto hieronder wys my met gaste in ‘n uitgediende Metodistekerkie in Bothaville verlede maand.

Die keersy van die munt as jy wyn maak, is om dit verkoop te kry. ‘n Bekende wynmaker sê onlangs vir my dis jammer dat ‘n produk so mooi en edel soos wyn, waarvan almal boonop hou, so moeilik is om te verkoop.

Osbloed is nêrens op winkelrakke of restaurante se wynlyste nie en ek gaan baie hard probeer om dit so te hou. Die waarde daarvan om self my wyn landwyd op proeë te neem, is om my eindverbruiker te ontmoet. Omgekeerd beteken dit dat seker 90% van wie my wyn drink, dit by my persoonlik gekry het. Ek gesels graag oor hoe en hoekom ek wyn maak en oor die spesifieke style wat ek bewonder en nastreef.


Proegeleenthede werk so:

• R300 per persoon

• Ons proe en bespreek 8 wyne (en hulle etikette)

• Hoof- en nagereg en genoeg wyn saam met ete

Ek verkies ongeveer 20 gaste by ‘n geleentheid.


Wat doen ek die res van die jaar?

Ek lees. Ek het fiksie herontdek, nadat ek vir drie dekades hoofsaaklik biografieë en tegniese tekste gelees het.

Saans lees ek graag ‘n hoofstuk Vonnegut of Palahniuk of gedigte vir Agnes. Ek lees ook oor menseregte en (toenemend) minder oor godsdiens. O, en natuurlik alles wat ek oor wyn kan opspoor. En dan help ek boonop graag vriende met hulle wynprojekte.


Hierbó bottel Nico Uys ‘n Cabernet wat hy gemaak het, my kinders en tuinwerker in die agtergrond.

Musiek is een ding wat in ons huis voorrang kry bo enigiets anders. Dis selde stil in ons huis. Ek verkies dit as my kinders en hulle vriende die musiek maak, maar ek en Agnes luister graag na Gretchen Parlato en Kurt Elling se nuwe albums. Wanneer ons gaste vir ete het, sal jy waarskynlik Melody Gardot op die BOSE hoor.


Kom drink ‘n glas wyn op my stoep

Buiten daarvoor dat ek en Agnes graag ander kelders besoek en met wynmakers oor hulle metodes en voorkeure gesels, is dit vir my die lekkerste bederf wanneer iemand óns besoek en deur ons vate en wynreeks kyk. Ek het al gaste uit Australië, Nederland, die VSA, Ghana, Griekeland, die VAE en verre Ooste ontvang met ‘n glas wyn in die hand. En dan, ‘n besondere eer dat ek ook besoek word deur gaste wat in die wynindustrie werk.

Hiernaas ‘n foto waar die proelokaal-bestuurder en chef van Idiom op ons stoep teken na ‘n middag se kuier.


Beste wense vir die winter, hou jou glas half vol!




223 views0 comments

Recent Posts

See All

Subscribe to get exclusive updates

Thanks for subscribing!